Thursday, 12 November 2009

SKOLE NUUS

Hoërskool Laingsburg

Menere I Manuel, N Hendricks, C Pedro en mevroue M Swanepoel, L Stadler, S Manuel en B Van Wyk het die Wiskunde oplossingskonferensie die naweek van 4 tot 5 September 2009 te George bygewoon. Hierdie is ‘n groot hoogtepunt aangesien slegs 500 van die 20 000 opvoeders hierdie konferensie kan bywoon.

Meneer I Manuel, C Pedro, mevrou L Stadler en M Swanepoel is tans besig met ‘n Assessor kursus deur Noord-Wes Universiteit.

Laingsburg het vanaf 1 September 2009 sy eie Leerdersondersteuning- en vaardigheids eenheid onder leiding van mevrou CS Pedro. Voorheen was die naaste eenhede Oudtshoorn en Worcester. Al vier skole kan nou hul leerders met leerprobleme na die eenheid stuur waar klem gelê word op die bemeestering van vaardighede. Leerders wat dus nie teoreties sterk is nie, maar wel prakties met hul hande vaardig is, sal nou die geleentheid hê om hierdie vaardig-heid by die eenheid te ontwikkel.

NSFAS het die skool se graad 11 en 12 leerders op 8 September 2009 besoek en UNISA op 16 September 2009 om die leerders in te lig oor beskikbare fondse en beurse om verder te studeer.

TIENERSWANGERSKAPPE OP PLAASLIKE VLAK

Die jeug van vandag is ons leiers van môre, maar met tienerswanger-skappe wat toeneem lyk die toekoms vir plaaslike jeug donker. Tieners word swanger, maar besef egter nie die nagevolge en effekte wat daarmee gepaard gaan.

Vanuit die statistieke verkry vanaf ons plaaslike hospitaal en kliniek is 23 (22,5 %) tieners tans swanger en 12(27%) het reeds geboorte geskenk. Hierdie getalle is verkry uit statistieke vir die tydperk 1 Januarie 2009 tot 31 Augustus 2009. Die ouderdomsgroep strek tussen 14 en 19 jaar oud.

Wanneer jy as tiener of jeug swanger word of ‘n meisie swanger maak, ontneem jy jouself van die volgende: om kind te wees d.w.s jou tienerlewe word deur die swanger-skap verkort, jou vryheid en jou toekomsplanne word beperk. Jy wat selfs ‘n kind is moet dan ‘n kind (baba) versorg met of sonder die hulp van jou ouers en daardie kind se vader. Jy as tienerouers is dan verantwoordelik om hierdie baba te voed, te klee en ‘n veilige tuiste te bied.
Redes hoekom tienerswanger-skappe plaasvind:

Daar is baie redes hoekom tienerswangerskappe plaasvind, maar navorsing het die volgende faktore geidentifiseer wat die risiko van so ‘n swangerskap kan verhoof. Hierdie faktore is ook op toepassing in Laingsburg:

*‘n Swak moeder-/dogterverhouding wat dikwels spruit uit ruwe en die liefdelose optrede van die moeder se kant. Uithuisigheid, drankmisbruik en afgestompheid van die moeder laat die tiener verwerp voel en help mee tot aggressie en opstandigheid. Dit vorm ‘n vrugbare teelaarde vir buite-eglike verhoudings.

*‘n swak vader-/dogterverhouding speel ook ‘n groot rol. Tieners is dan geneig om verhoudings met ouer mans, wat as ‘n vaderfiguur dien, aan te gaan.
*‘n Swak selfbeeld en minderwaar-digheidsgevoel gee soms aanleiding tot ‘n verhouding wat sterk seksueel gekleurd is.
* ‘n Ouerhuis waar ouers hulself aan buite-eglike verhoudings skuldig gemaak het, en waarvan die kinders bewus is, gee maklik aanleiding tot nabootsing van ouers se gedrag en optrede.
*Geen of ongewenste geslagsvoor-ligting, waar ‘n negatiewe en verwronge beeld oorgedra word aan die tiener oor seks en seksualiteit.
*Ontwrigte gesinslewe met min effektiewe bindinge en ‘n gebrek aan sekuriteit.
* ‘n Uitgerekte liefdesverhouding wat nie op die huwelik uitloop nie, omdat die betrokke partye nog nie fisies en emosioneel daarvoor gereed is nie.
*Tieners besluit ook self om seksueel aktief te wees, groepsdruk wat plaasvind, die misbruik van alkohol en dwelms om onafhanklikheid te bewys, onverantwoordelikheid of blote onkunde. ‘n Mens drink tog nie koeldrank uit ‘n brandewynbottel nie.

Voorkoming-maatreëls van tienerswangerskappe:

*“upstain” dit beteken besluit om nie seksueel te verkeer.
*Gebruik voorbehoedmiddels, soos kondome, inspuitings, voorbehoed-pille en ander opsies sluit in nood-kontrasepsie (“morning after pil”) inspuitings kontraseptiewe pil, en die intra-uteriene apparaat.

Tienersmeisies is dikwels te skaam om vir hulself voorbehoed te verkry, maar om voorbehoedmiddele te bekom hoef nie ‘n probleem of skaamgevoel te wees nie. Jy mag wel volgens jouself gereed wees om seksueelaktief te wees, maar is jy gereed om ‘n ouer te wees, wanneer jy nog self ‘n kind is?

Kondome is deesdae orals en gratis verkrybaar, soos by klinieke, polisiestasie, winkels, thusong-sentrums en soms ook skole. Alle klinieke verskaf voorbehoeding aan vroue vanaf die ouderdom van 14 jaar oud. Die voorbehoede pille, inspuiting en kondome kan ook gekoop word by apteke en sekere winkels.

Indien ‘n meisie onbepland swanger word, bied die wet die opsies van pleegsorgplasing, aborsies en aan-neming. Raadpleeg jou ouers, ‘n suster by die kliniek, ‘n maatskaplike werker, ‘n lewensoriënteringsonder-wyser oor die risiko’s voordat jy besluit om seksueel te verkeer.

‘n Deelnemer van Mej Laingburg 2009 het gesê, “Dames hou jul broekkies op”. Dames maak ‘n wyse besluit en volg hierdie deelnemer se woorde.

Saamgestel deur me. G. Jacobs, maatskaplike werker van Kindersorg Suid-Afrika: Laingsburg. (Bronne: Laingsburg kliniek en hospitaal; Davidean Moses, Paarl Post, 23 Julie 2009; Jou wêreld jou e-tydskrif).