Tuesday 15 December 2009

Kersfees - As ons maar net kan besef….

Daarom sê Hy, as Hy in die wêreld inkom: Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My 'n liggaam berei. Brandoffers en sondoffers het U nie behaag nie.
Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom--in die boekrol is dit van My geskrywe--om u wil te doen, o God. (Heb.10:5-7)

Die sticker Jesus is the Reason for the Season is baie gepas om ons in te lig waaroor Kersfees inderdaad gaan. Tog slaan ons steeds die bal mis as ons beplanninge en optrede ver te kort skiet as dit kom by die verheerliking van Christus in die periode. Ek wens ons kan die wysheid bekom om die opoffering, liefde, diepte, die genade van Kersfees te verstaan. Miskien kan ‘n menslike illustrasie ons nader laat beweeg tot die liefdesdaad.

Verlange, vermisting, trane, eensaamheid, verlies, ens. is nie aspekte wat met Kersfees ge-assosieer word nie. God word soms kwalik geneem en verwyt vir die ervaringe gedurende Kersfees. Hoekom moet dit so wees vra ons? As ons maar net besef het, dat dit is juis wat die Godheid ervaar het toe die Seun ge-offer was vir ons op die eerste Kersfees!

Ons moet besef dat die ongehoorsaamheid van die mens, wat die sondeval veroorsaak het, het groot skade berokken aan die hele skepping. Tot vandag ervaar ons die nagevolge van die aksie. Hoe gemaak om die situasie te oorkom en reg te stel?
Wel, offerhande was ‘n moontlike oplossing (dit is altyd goed om vergifnis te vra en berou te toon) en het van die sonde uitgedelg, maar die angel was nog steeds daar! Die loon van die sonde is die dood!(Rom.6:23). Hoe nou gemaak? Iemand moet boet! {Ons dring vandag op verskeie fronte aan op geregtigheid en eintlik vra ons vir iemand om te boet! Maar wat van my/ons eie oortredinge?}

Die eerste Kersfees begin die ommeswaai in lewensuitkyk wanneer Jesus kom om te boet! Ons sonde neem HY op Hom. Jesus bring herstel, Hy bring versoening, nuwe moontlikhede! Kersfees word volbring in/op Golgotha, maar in afwagting sing die engele: EER aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde vir die mense in wie HY ‘n welbehae het (Luk.2:14).

Kersfees herinner ons aan die groot Liefde wat God vir ons gehad het, steeds het en sal he. Mag ons hierdie Liefde en kanse nie versmaai nie. Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort (1Kor 6:20).

‘n Geseende Kersfees word u en u familie toegebid. Kom ons gee om vir mekaar soos Christus die voorbeeld gestel het. Word prakties hierdie Kersfees in u geloof. Reik uit na ander. Laat u liefde daadwerklik deurbreek in die lewens van u naaste.

Vrede aan U!

P A Williams - pawilliams@laingsburg.gov.za